LOOP KATVOET IN DIE NAG (Landbouweekblad)

LOOP KATVOET IN DIE NAG

Skerpioene se geskiedenis dateer uit die oertyd toe van dié diere meer as 3 meter lank en 1½ meter breed was. Vandag kom daar steeds sowat 1 600 soorte skerpioene oor die wêreld heen voor – ’n bewys van hoe uiters geslaag hulle vir oorlewing aangepas is.

Nou die oggend sit ek rustig en werk agter my lessenaar. Terwyl ek my pyp stop, hou ek die wild dop wat by my dammetjie kom drink. Ná die grootoog-duikerooitjie kom die modderlyf-vlakvark-familie in gelid water soek. Skielik kom my werksman met ’n gil om die hoek van die huis gestorm. Die varke laat spaander in ’n stofwolk. Hendrick hou sy voorvinger omhoog, soos iemand wat pas ’n sokkerbal in die doelhok geskop het. Hy kan geen verdere woord uitkry nie, maar sy gesig verraai dat hy die uiterste pyn ervaar. Gedagtig aan die mambas, kobras en ander slange wat dikwels hier op my Laeveld-werf kom oë wys, vrees ek die ergste. Wanneer hy op die matjie voor die deur neersak, prewel hy egter: “Skerpioen…”

Toe hy agter die huis aan’t opruim was en met sy hand in ’n kartondoos vroetel, piets een van die groot, swart dikstertskerpioene van die Parabuthus-spesie wat hier by ons so volop is, hom netjies op sy wysvinger se punt. Hy kerm kwaai, sweet slaan uit en die pyn kruip op tot by sy skouer waar dit gelukkig ophou. Daar’s min wat ek kan doen behalwe om pynstillers en ’n bietjie kortisoon te gee terwyl ons hom daglank dophou vir enige ander fisiologiese simptome, soos benoudheid, lamheid, rukkings, braking, sleeptong-praat of ’n naalde-en-spelde-gevoel dwarsoor sy lyf. Slegs dié simptome sal verdere medikasie vereis en net in uiterste omstandighede hoef teengif toegedien te word. Ondanks ’n slegte nag is Hendrick egter die volgende dag heelwat beter, al pyn sy hand nog kwaai.

Daardie aand langs my vuurtjie, terwyl ek na die uile luister, dink ek dat skerpioene eintlik oerdiere is met ’n ontsaglike lang geskiedenis. Die eerste voorvader-skerpioene was blykbaar seeskerpioene waarvan sommige enorm groot was en almal spaanvormige agterpote gehad het om mee te swem. Sommiges was meer as 3 meter lank en 1½ meter breed, wat hulle die grootste Artropode (litpotiges) gemaak het wat ooit geleef het. Later – ná die koms van insekte – het sommige die water verlaat om op land insekte te jag en toe die vorm aangeneem wat ons vandag nog ken.

Van alle ongewerwelde diere is die skerpioen seker die mees herkenbare – hulle lyk almal baie eenders en kan nie maklik met iets anders verwar word nie. Selfs fossiele van skerpioene van 450 miljoen jaar gelede lyk asof hulle nog gister hier in die bosveld rondgeloop het. Hulle was omtrent identies aan vandag se skerpioene behalwe dat hulle baie groter was – sommige tot ’n halwe meter lank. Skerpioene is ware lewende fossiele waarvan die fossiel-oorblyfsels reeds in rotslae vasgevang is, miljoene jare voor die verskyning van die eerste dinosourus.

BIOGRAFIE

Abré, die oudste van twee seuns, is einde 1942 op Volksrust gebore en het op tweejarige leeftyd polio opgedoen. Van kindsbeen af was hy natuurmens. Na skool in Pretoria en matriek in Kimberley, het hy tale aan Unisa gestudeer. Spoedig was die roepstem van die bos egter te sterk en het hy na die B.Sc.-graad by Tukkies oorgeskakel. Ná sy studies het hy by Natuurbewaring as herpetoloog, ekoloog en opleidingshoof gewerk tot sy aftrede op die ouderdom van 50. Benewens biologie-onderwyser was hy ná sy aftrede ’n ekologiese navorser, konsultant, film-maker en vir 12 jaar swerwer deur die ongerepte Afrika. Ten spyte van ernstige gestremdheid is hy ’n ervare valkenier, handwapenjagter en hengelaar. Hy is deurgaans betrokke by bewaring, skryf sedert 2005 en het onlangs sy eerste boek, Water under the bridge, self gepubliseer.

Daar is seker min ongewerwelde diere wat in die verlede die bron van soveel mites was as die skerpioen. Die ou volksverhale van die Romeine, Grieke en baie ander volke, het daarvan gewemel. As ek opkyk na die Melkweg en soek na die sterrebeeld van die Skerpioen, onthou ek dat die Chinese, en selfs die vroeë Christene, vir wie dit ’n simbool van die Jodedom was, die skerpioen gesien het as die verpersoonliking van verraad.

Ons land is ryk aan skerpioene en in die meeste habitatte is hulle baie meer volop as wat mense dink. Meer as 160 soorte – meer as 10% van die wêreld se skerpioensoorte – kom in Suid-Afrika voor. Gelukkig het blykbaar nog net drie van dié magdom skerpioensoorte al mense se dood veroorsaak.

Die swart Bosveld-skerpioen, Parabuthus transvaalicus, wat vir Hendrick bygekom het, is een van hulle. Dis egter net vir klein kindertjies en verswakte bejaardes vir wie hul steek lewensgevaarlik kan wees.

Agter ons huis – enkele meter van waar Hendrick gesteek is – staan drie massiewe witgatbome (Boscia albitrunca). Verál een van hulle het honderde gaatjies in sy stam en takke. Dis die skerpioenboom. Ek en vroulief besluit om vir ’n wyle die vuur te verlaat, my ultraviolet-flits, wat fluoresserende stowwe met ’n onaardse groen glans in hul eksoskelet laat gloei, te neem en te gaan kyk na die skerpioene in die boom. Hulle is baie skugter diertjies wat maande lank snags by die ingang van hul gaatjies sit terwyl hulle wag vir insek-prooi om binne trefafstand te kom. As ons die flits aanskakel, lyk die ou witgat soos ’n Kersboom – te pragtig.

Ons tel omtrent veertig skerpioene van verskillende soorte wat met hul knypertjies by hul gaatjies uithang. Met ’n gewone flits sal jy niks sien nie. Dis slegs op sekere nagte dat hulle in groot getalle uit hul gaatjies kom en rondloop. Hoekom weet ek nie.

Baie soorte kom nooit uit hul skuilings nie, terwyl ander selde meer as ’n meter daarvan af wegbeweeg. In teenstelling hiermee is die groot, geel Kalahari-skerpioen (P. granulatus) ’n aktiewe jagter wat heelnag rondloop op soek na prooi. Mense wat snags kaalvoet rondloop, word dus dikwels gesteek en aangesien hy een van die giftigste soorte is, is dit nie verbasend dat hy vir die meeste sterfgevalle in Suid-Afrika verantwoordelik is nie. Dit is natuurlik net die skerpioene met klein, dun knypertjies en groot, dik sterte wat kwaai gif het, terwyl dié met groot, krapagtige knypers en betreklik dun stertjies se gif omtrent geen uitwerking op ’n mens het nie.

In onderontwikkelde tropiese lande is skerpioensteek ’n groot probleem en in die verlede het tien maal meer mense jaarliks daarvan gesterf as van slangbyt, hoofsaaklik weens swak mediese hulp.

’n Klompie jare gelede nog het daar in Mexiko nog meer as duisend mense per jaar daaraan beswyk. Hoewel daar volgens amptelike statistieke gedurende 2010 nie minder nie as 277 977 mense hier skerpioensteek opgedoen het, is die dodetal tans minder as honderd per jaar. Die oplossing was beter mediese dienste en die vervaardiging van ’n teengif. In vergelyking daarmee sterf gemiddeld net 11 mense per jaar in Suid-Afrika van skerpioensteek.

Vir my is skerpioene egter fassinerend en ek vind hul gedrag baie interessant. Pleks van hul liggaamsplan te wysig, het skerpioene hul gedrag by hul omgewing aangepas. In die algemeen lei die meeste skerpioene ’n rustige, stil lewe. Hulle leef ook redelik lank – in sommige gevalle tot 24 jaar. Hul paringsgedrag wissel baie en kan skouspelagtige danse insluit.

Die mannetjie het drie verskillende tipes gif – een elk vir prooi, vyande en hofmakery. Tydens paring spuit hy ’n tipe liefdesgif in die wyfie wat haar dronk maak en kalmeer. Daarna plaas hy ’n spermpakkie op die grond en lei hy haar daaroor. Sy tel dit dan op en plaas dit in haar geslagsopening. Daarna moet hy laat spaander voordat sy uit haar liefdesdronkenskap ontwaak en hom dalk opvreet.

Skerpioene teel ook baie stadig aan omdat die wyfie tot agttien maande lank dragtig kan wees met haar embrio’s wat tydens die swangerskap voedingstowwe van haar ontvang en haar dus lewendbarend maak. Die kleintjies word as volmaakte klein skerpioentjies gebore en word deur haar in ’n “geboorte-mandjie”, gevorm deur haar bene, opgevang, waarna hulle op haar rug klouter. Hier dra sy hulle rond tot hul eerste vervelling, wat van etlike dae tot solank as vier maande kan duur.

Gewoonlik is “lewende fossiele” se laaste oorblywende bevolkings hoogs bedreig of baie skaars. Dit geld egter nie vir skerpioene nie.

Die blote feit dat dié diere oral, behalwe op Antarktika, voorkom en dat oor die wêreld heen nog sowat 1 600 soorte bestaan, maak hulle baie spesiaal. Dit beteken dat dit ’n ontwerp is wat gewerk het en nooit nodig gehad het om te verander nie.

As die nagwind opsteek, is dit tyd om bedwaarts te keer en my skoene op ’n stoel te sit, weg van die vloer af. Net vir ingeval …

About Wilhelm Weber

Pastor at the Old Latin School in the Lutherstadt Wittenberg
This entry was posted in Articles from South Africa and tagged , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.