Trees for Africa

BOME VIR AFRIKA!

Té veel bome in ’n land wat normaalweg droog is, kan skadelik wees vir die natuurlike habitat. Dié probleem het oor die jare in Suid-Afrika ontstaan.

KORTOM

■ ’n Paar jaar gelede al is bereken dat 98 % van die Transvaalse Bosveld, wat nie onder die ploeg is nie, geheel en al deur bosse ingedring is.
■ Omtrent 150 jaar gelede het groottroppe springbokke die Springbokvlakte noord van Pretoria bewei wat nou, benewens bewerkte gebiede, tipiese koedoe- en njalahabitat geword het.

Suid-Afrika is in wese ’n droë land. Die stryd om die boeke op ’n plaas te balanseer, is niks nuuts nie. In die afgelope 30 jaar tot 40 jaar is honderde marginale kommersiële plase in wildplase omskep omdat dit gesien is as ’n makliker manier om ’n volhoubare inkomste uit die grond te maak. Geen duur werktuie meer nie, geen saad, bemesting, chemikalieë, dipstowwe of medisyne om te koop nie. Geen kampheinings om te onderhou of skommelende produktemarkte om deur gedikteer te word nie. Geen vervoerkoste vir jou produkte na die mark nie – die jagters kom oes dit op die plaas. Solank jy net toesien dat daar genoeg weiding en suipplekke op die plaas is, sal die wild aanteel en vir hulleself sorg. Hulle is immers beter aangepas en maak baie beter gebruik van die totale omgewing.

Die beeste word verkoop en die plaas bevolk met ’n verskeidenheid wildsoorte. Omdat rooibokke die bekostigbaarste wildsbok is, oortref hul getalle al die ander en saam met al die ander grasvreters oorbewei hulle die graskomponent van die veld heeltemal.

Benewens koedoes, njalas, bosbokke, steenbokke en duikers, kom min ander gespesialiseerde blaarvreters op die meeste wildplase voor. Vergeleke met die grasvreters is hul getalle min. Vanweë die koste en klein gebiede kom min of geen olifante of swartrenosters hier voor om die bome en struike behoorlik te benut nie. Selfs kameelperde en elande kom nie op alle wildplase voor nie.

Natuurlik moet jy ’n wildwerende heining hê, maar dis juis dié heining wat die wild verhinder om te trek en hulle op een kol vaskeer, wat maak dat die graskomponent van die veld agteruitgaan en die bos, wat sy vog diep kan gaan haal, ál meer die oorhand kry.

Die gevolg daarvan, asook van verál die gebrek aan ’n behoorlïke brandprogram op die meeste wildplase, is dat hulle omtrent sonder uitsondering sit met ’n ongelooflik groot bosindringingsprobleem. ’n Paar jaar gelede al is bereken dat 98% van die Transvaalse Bosveld, wat nie onder die ploeg is nie, geheel en al deur bosse ingedring is. Hoe kleiner die eiendom, hoe meer dramaties is hierdie probleme en hoe intenser moet die bestuurspraktyke wees.

BOME WORD MEER

Daar’s talle voorbeelde van hoe bome deur die jare vermeerder het. Toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap van Goeie Hoop voet aan wal gesit het, was daar omtrent geen bome nie, behalwe in een afgeleë vallei … daarom het hulle dit Houtbaai genoem. Die Kaapse Vlakte was ’n wye, oop sand- en vleilandvlakte … waar daar nie vandag huise staan nie, is vir elke boom wat eens daar gegroei het, nou duisende.

Langs die pad na die klein dorpie Marken naby die grens van Botswana, is ’n groepie reusagtige anabome waar David Livingstone altyd gekampeer het. Ek het eenmaal ’n ou foto gesien wat daar geneem is en ’n uitsig oor ’n groot, oop savanna-vlakte toon. Deesdae is die anabome só toegegroei dat jy hulle skaars kan sien. Die vlakte lyk soos ’n oerwoud.

Aan die begin van die vorige eeu het die eerste veldwagter van die Kruger-wildtuin, James Stevenson-Hamilton in sy boek South African Eden beskryf hoe hy gereeld per ossewa van sy hoofkwartier by Sabiebrug (vandag Skukuza) na Witrivier gereis het om proviand aan te vul. Volgens hom was hul grootste probleem by Witrivier die gebrek aan vuurmaakhout aangesien dit oop grasveld was met geen bome nie. Vandag groei daar miljoene.

Teen dié agtergrond het die Departement van Bosbou in die 1970’s met die belaglike idee van “Boomplantdae” vorendag gekom om dit vir die gemeenskap aanvaarbaar te maak dat hulle miljoene hektaar prima-grasveldhabitat vernietig deur dit te oordek met ’n kombers van denne- en bloekombome. Hierdeur bedreig hulle baie gespesialiseerde grasveld-voëlsoorte, soos die inheemse grondhoutkapper en blouswael. Dit het tot gevolg dat die eens vrugbare vleilande opgedroog het, wat grootliks daartoe bygedra het dat die lelkraanvoël plaaslik tot op die rand van uitsterwing gedryf is. Ons het die landskap geskend en in baie gevalle het ons die aangesig van die land heeltemal verander.

In die lig daarvan is dit vreemd dat die Departement van Omgewingsbewaring in sy biodiversiteit-wetgewing so sterk standpunt inneem teen wildboere wat plaaslike wildsoorte ingevoer het na gebiede waar hulle nie oorspronklik voorgekom het nie. Want deur die plantegroei te verander, wysig jy die habitat sodanig dat dit nie meer geskik is vir die oorspronklike inwoners van die gebied nie, maar maak jy dit ideaal vir ander. Omtrent 150 jaar gelede het groot troppe springbokke die Springbokvlakte noord van Pretoria bewei wat nou, benewens bewerkte gebiede, tipiese koedoe- en njala-habitat geword het, want hier groei nou duisend maal meer bome as wat daar oorspronklik was. Wanneer was “oorspronklik” nou eintlik? Die Karoo is eens deur groot seemonsters en dinosourusse bewoon. Was dít “oorspronklik”, of was “oorspronklik” 1652 toe die eerste wit mense hier voet aan wal gesit het?

Daar is egter te veel bome oor die hele Suid-Afrika. Die probleem is dat die gras en die houtagtige komponente van die veld in ’n ewige stryd gewikkel is. Deur die veldbrande wat sedert oudsher op die vlaktes van Afrika gewoed het, is 99,9% van alle boom-saailinge doodgebrand. In reaksie daarop het die bome en struike elke jaar duisende sade geproduseer, maar deur veldbrand te verhinder of net koel brande toe te laat, het ons derduisende saailinge laat oorleef en sodoende die houtagtige komponent toegelaat om totaal die oorhand te kry.

GROND DROOG UIT

Die verhoogde transpirasie van al dié bome, wat baie hoër is as dié van die gras, veroorsaak dat die grond baie vinniger uitdroog en die watertafel daal tot onderkant die vlak waar die gras, met hul kort wortelstelsels, toegang daartoe het. Dit sal op sy beurt die uitwerking van droogtetye vererger en op die duur die herstel van die grasbedekking van die plaas belemmer en die drakrag dramaties verminder. Vir die rooibokke maak dit nie saak nie, want as daar nie meer gras is nie, kan hulle in ’n handomkeer van gras na bos oorskakel. Dis net so ’n groot probleem in die Krugerwildtuin wat nie vanself sal weggaan nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis nie dat ek nié van bome hou nie – inteendeel, ek is dol oor hulle. Aanvanklik het ek selfs deelgeneem aan Departement Bosbou se boomplant-seremonies, maar het gou tot my sinne gekom. Van toe af het ek probeer om minstens tien uitheemse bome elke jaar op Boomplantdag af te kap. Ek is lief daarvoor om inheemse bome om my te hê, maar te veel van ’n goeie ding is eintlik sleg en te veel bome in ons gewoonlik droë land, is nadelig vir die omgewing in ’n land wat reeds bome vir Afrika het.

 

About Wilhelm Weber

Pastor at the Old Latin School in the Lutherstadt Wittenberg
This entry was posted in Articles from South Africa and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.