Domesticate rhinos and trade with their horns

Is this a good or bad idea? Domesticating rhinos and making money with their every growing horns? It sounds a bit like cutting your nails and making money by the way. Read this article from the “Landbouweekblad” and judge for yourself: ‘RENOSTERS BESTE PLAASDIERE NÓG’

Renosters sal die beste plaasdiere nóg wees as die handel in renosterhorings gewettig word. Só sê ’n wildboer wat aanvanklik vertroue in die bedryf verloor het, maar nou weer baie optimisties oor die toekoms is.

“Is hulle nie uitsonderlike diere nie?” sêvra mnr. Piet Warren, ’n bekende wildboer van Gravelotte in Limpopo, onderwyl die renosters stof opskop om die hopies voer wat vir hulle by hul vreetplek, sommer so in die tweespoorpad, uitgeskud is.

Hy is lief vir sy wild. Hy glo as ’n mens ’n paar somme maak, kom jy tot die gevolgtrekking dat ’n wildboer ’n paar miljoen rand uit ’n enkele renoster kan maak deur die dier se horings elke twee jaar te oes sonder om hom dood te maak.

Piet maak glad somme, sommer so in sy kop, want dit is nodig as jy wil geld maak, skerts hy. Naas sy renosters en swartwitpense, die belangrikste wildsoorte op sy plaas Josephine net buite die dorp, bedryf hy ’n groot voerkraal met sy eie slagplase.

In ’n stadium het hy ook op groot skaal met leeus geboer. Hy het die leeus aangehou om eintlik die afval van sy slagplase op te vreet, maar hy het die probleme wat die jag van dié diere vir ’n boer feitlik onmoontlik maak, betyds sien kom en van hulle ontslae geraak.

Net so het hy in 2003 al sy renostersverkoop. Dit was nadat hy gesien het hoe stropery toeneem en hoe traag die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die natuurbewaringsowerheid toe was om die probleem daadwerklik te pak en op te los.

Maar hy het nie opgehou somme maak nie. Die renosters het goedkoper geword weens die groter risiko as gevolg van stropery. Daarby het hy die mark bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom dat al manier om die stroop van renosters onaantrekliker vir stropers te maak, die wettiging van handel in renosterhoring sal wees.

Verlede jaar is die langbeen-swartrenoster van Wes-Afrika en die Soematra-renoster finaal uitgeroei, en nou is daar net drie soorte oor: Die wit- en swartrenosters van Suider-Afrika en die dwergrenoster van Asië. Van laasgenoemde is daar net ’n paar oor en hulle is meer as hul gewig in goud werd, sê hy.

“Verlede jaar toe koop ek weer, en ek het 47 gehad tot stropers vroeër vanjaar ’n jong koei waarvan die horing afgesaag was, geskiet en die stompie uitgekap het. Nou is daar 46 oor.

“Maar as die handel in renosterhoring gewettig word, sal wildboere genoeg geld verdien om hul renosters soos goud op te pas en ongekende veiligheidsmaatreëls te tref om stropers uit te hou.

“Terselfdertyd behoort die prys van renosterhorings dan te daal, die stropers sal minder betaal word en dit sal vir hulle ook minder die moeite werd raak om hul lewens vir die handelaars te waag om sulke horings in die hande te kry,” glo Warren.

Stropers kry nou sowat R100 000 per kilogram vir horings wat in Maputo gelewer word. Hulle kry dus gemiddeld R250 000 vir die volledige horing van ’n koei en R600 000 vir die horing van ’n bul. As hulle ’n dier met ’n afgesaagde horing stroop, is hul inkomste baie laer, maar steeds aanloklik.

So lank as wat die waarde van ’n renoster dood meer is as lewend, maak dit eintlik nie sin dat die diere moet bly leef nie.

Indien die handel gewettig word, sal renosters alle ander plaasdiere na vulletjies laat lyk as ’n mens kyk na die inkomste wat hulle vir ’n wildboer kan verdien, meen Warren.

Groot geld te maak

Buffels kos nou gemiddeld R500 000 stuk. Hulle kalf die eerste keer as hulle sowat vier jaar oud is en in gunstige toestande elke 15 maande daarna. As ’n boer al dié buffel se nageslag teen R500 000 stuk van die hand kan sit, verdien so ’n dier vir hom sowat R4 miljoen rand in die 20 jaar wat hulle normaalweg kan produseer.

Die meeste van die bulle in die nageslag sal gejag word, wat beteken dat hulle nie almal noodwendig verder sal produseer nie en ook goedkoper van die hand gesit sal moet word.

Renosters kos sowat R300 000 stuk, kalf die eerste keer op agt jaar en elke drie jaar daarna. Hy glo met goeie voeding kan dit tot twee jaar verminder word. ’n Mens kan dus sewe tot agt kalwers in ’n koei se produktiewe leeftyd verwag.

Die verskil is dat haar nageslag nie doodgemaak hoef te word nie en dat hul horings ook mettertyd geoes kan word. So ’n koei se nageslag is dan teen gemiddeld R300 000 stuk sowat R2,4 miljoen werd. Uit die horings kan ’n mens verwag om nog sowat R3,5 miljoen te verdien. As jy dan nog die geld wat jy uit die nageslag (so sewe van die agt kalwers) byreken, kan die diere vir ’n baie aantreklike inkomste sorg.

Warren grond die syfers daarop dat die huidige swartmarkprys wat verbruikers vir die finale produk betaal, sowat $186 (ongeveer R1 537) per gram is. ’n Koei se horings lewer sowat 2,5 kg en ’n bul se horings sowat 5 kg, wat beteken sulke horings is onderskeidelik R4 miljoen en R8 miljoen werd as dit klaar verwerk is.

As die handel gewettig word, kan ’n mens verwag dat dié prys met sowat die helfte sal daal, wat die finale produk per horing onderskeidelik R2 miljoen en R4 miljoen werd sal maak.

In die landbou kry die boer normaalweg sowat een derde van wat die verbruiker betaal as prys vir sy produk. Die boer kan dus sowat R660 000 vir ’n koei en R1,32 miljoen vir ’n bul se horings verwag sonder dat hy die dier hoef dood te maak.

Boere kan die horings begin oes as die renosters gemiddeld twee jaar oud is en daarna gereeld elke tweede jaar. Die diere se horings groei sowat 100 mm per jaar en boere kan verwag om horings ter waarde van gemiddeld R250 000 elke tweede jaar te oes.

Dit beteken uit een renoster kan ’n boer oor die sowat 30 jaar van die dier se leeftyd die horings 14 keer oes, wat ’n inkomste van nagenoeg R3,5 miljoen kan verdien.

Aan die einde van die dier se produktiewe leeftyd kan die horing toegelaat word om weer uit te groei en kan die dier gejag word, wat ’n verdere inkomste kan gee.

HOOP : Hernieude stryd teen stropers

Naas die somme wat vir hom klop, sê mnr. Piet Warren, het die meer doelgerigte optrede van die polisie en natuurbewaarders om stropery hok te slaan hom laat besluit om weer renosters aan te skaf.

Wildboere SA het ook ’n spesiale renosterkomitee op die been gebring wat heeltyds besig is om die politici te bearbei om hulle te oortuig dat die wettiging van die handel in renosterhoring al uitweg is om die renosters van uitwissing te red.

So ’n stap sal ook ’n groot klomp werkgeleenthede skep, wat vir die land met sy hoë werkloosheidsyfer ’n verdere inspuiting sal wees.

Dit, tesame met die feit dat verskeie hooggeplaaste lede van die ANC by wildboerdery betrokke geraak het, het die Regering se siening die afgelope tyd skynbaar beduidend laat verander.

Dit staan soos ’n paal bo water dat die mark vir renosterhoring baie groot is.

Die meer as 2,5 ton se horings wat die afgelope jaar deur stropery én wettige jag in die handel beland het, het die prys geensins afgedwing nie, trouens, dit het gestyg.

Renosters kan landwyd aangehou word en die weidingsbehoefte van een renoster is gelyk aan dié van agt beeste. Die opgegaarde horings en dié wat deur boere geproduseer kan word, sal maklik deur die mark opgeneem kan word, sê Warren.

Volgens die Stop Rhino Poaching-inisiatief is daar vanjaar na raming al tot 380 renosters (teen begin September) gestroop. Dit kom neer op een renoster ongeveer elke 15 uur. Teen dié trant gaan sowat 600 renosters vanjaar vir hul horings, wat eintlik maklik wettig geproduseer kan word, doodgemaak word.

Unknown's avatar

About Wilhelm Weber

Pastor at the Old Latin School in the Lutherstadt Wittenberg
This entry was posted in Articles from South Africa and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.