Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.” “Moet hom nie keer nie,” s Jesus, “want daar is niemand wat ‘n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. Wie nie téén ons is nie, is vír ons. Elkeen wat vir julle ‘n beker koue water te drinke gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal belis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle. Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. En as jou voet jou van my afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word. En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word.
Om op te offer? Ja, maar tog sekerlik nie ten koste van my nie – ten koste van my gesondheid of my familie of dit wat my hart gevange hou! Of hoe?
Ons Here gee ons moed, om sy verlossingsbelofte eerste te stel in ons lewe, ook as dit teen ons grein gaan of op ons senuwees werk. Vanuit die ewigheid gesien kan eerder alles, waarvan ons nie afstand wil doen in ons kort lewetjie nie, wat vir ons so belangrik is, verlore gaan, as wat die hemel vir ons verlore bly.
Christus weet wat ons nodig het, en hou al lankal die ware verlossing vir ons gereed. Daarom sal niemand wat op sy beloftes vertrou, tekort skiet nie. Wat ons in hierdie lewe moet opoffer, is tydelik en van korte duur. Christus se verlossing bring mee dat ons nimmereindigende, ewige vreugde sal ontvang. Hy neem dit op hom en vernietig alle teenstrydighede wat ons mag raaksien.
Die Here wys sy dissipels op nog ‘n aspek van opoffering. Hy verduidelik, dat ons in sy navolging nie ligsinnig die gemeenskap met ons medemense moet vermy nie, al sou hulle ook randfigure wees. Vir ons is dit maklik om mense uit ons sosiale kring uit te skuif. Christus se doel met die kerk is nie ‘n rigiede eenvormigheid of vaal eentonigheid nie.
Inteendeel, hy stel dit bekend as ‘n kreatiewe veelvoud wat mekaar aanvul, verryk en positief beïnvloed. Die lidmate van sy liggaam is deur hom geskape, gered om mekaar te dien en die ewige saligheid te beërwe. Met die verkiesing van sy dissipels beklemtoon hy hierdie bonte verskeidenheid van die begin af. Die verloste skare, wat Johannes in sy verbanning aanskou het, bekragtig, dat globale veelvoud om sy onthalwe bestaan.
In die hemelse skare ruim die Here ook vir die kleinstes »stamlokale« in. Hy word veral sterk vir die swakkes. Daarom ook die uitdruklike waarskuwing, om nie hulle plek te betwis nie. Hy hou ook vir my plek. Ek mag daarop vertrou.
Jesus, omdat u opgestyg het na die ewige hoogtes: versuip ons ou Adam daagliks, voed ons gees, trek ons almal na u toe, dat ons by u mag bly; begenadig die begeertes van ons gees met die nuwe lewe wat u alleen kan gee. Amen.
(Wilhelm Weber jr en vertaal deur Helga Hiestermann]
