Ons boerseuns was daar!
Die artikel “Windpomp les grotes se dors” (LBW, 4 Mei) het betrekking.
Met die lees van hierdie artikel is ek teruggevoer na die bos en oorsprong van die eerste boorgat, wat aan die einde van die sestigerjare in die Oos-Caprivi geboor is.
Katima Mulilo, wat vandag die hoofstad van die streek is, het uit vier woonhuise en ’n polisiekantoor bestaan toe die groen Dreyerboormasjien daar opgedaag het.
Daar was geen boorplek-aanwysers nie, die aarde was plat en paaie was twee sandstrepe deur die bosse. Sand het die boorwerk geweldig bemoeilik en aanvanklik verhinder dat ’n staalvoering gebruik kan word.
Aanwysings oor waar die are raakgeboor kon word, was ’n toneelstuk wat applous verdien! Dit was mikstokke van verskillende boomsoorte, bottels met water en selfs gebuigde hoede wat in die lug gegooi is wat kwansuis op die regte plek sou val. Die eienaardigste was die geval van een ou wat selfs stuiptrekkings gekry het.
Maar mnr. Theuns Swanepoel, ’n polisieoffisier wat alombekend was as die Rooi Rus, het met ’n oplossing vorendag gekom. Spanwerk tussen polisieman, boorman en army-polisiemanne, soos dienspligtiges toentertyd genoem is, was noodsaaklik.
Snelsement en aartappelsakkies is ingevoer, dromme water uit die Zambezirivier is aangery en die grootste miershoop is platgestoot. In die grootste gat is daar toe begin boor.
Sement en miershoopgrond is tot dagha gemeng en in aartappelsakkies gegooi. Die boorstamper is uit die gat gelig en die sakkies sement is soos worse in die boorgat afgegooi. Dan is daar weer met die gestamp voortgegaan en is ’n voering deur die dagha gevorm. Met hierdie proses is voortgegaan tot op ’n harde formasie wat sowat 50 m diep was. Vandaar die suksesse.
Die Caprivi-strook is tussen Namibië, Angola, Zambië, Botswana en Zimbabwe geleë. Dit is genoem na graaf Georg Leo von Caprivi, ’n Duitse Imperiale kanselier wat verantwoordelik was vir die “Heligoland en Zanzibar-verdrag” wat op 1 Julie 1890 met Engeland gesluit is.
Engeland het die Caprivi Zipfel (visstrook), wat op die breedste 32 km is, aan Duitsland afgestaan in ruil vir Zanzibar, ’n eiland in die Indiese Oseaan, regoor die destydse Tanganjika wat toe nog ’n Duitse kolonie was. Die doel van die ruiling was om ’n roete tussen Duitse kolonies in Afrika te bewerkstellig. Vandaar die naam Tanzanië.
Min mense weet dat daar in die Oos-Caprivi nie klippe is nie, behalwe op die bodem van die Zambezi-rivier en dat die Lenyanti terugvloei wanneer die Zambezi in vloed is.
Met Windhoek wat die skoonste stad in Afrika is, is bewys dat die Namibiërs inderdaad natuurliefhebbers is. Maar ons moet darem ook die hoed lig vir die organisasies en manne wat die waternood van diere in die Madumu-wildreservaat waargeneem en iets daaromtrent gedoen het. Dis fantasties!
Ons moet egter nooit vergeet nie van die rol van ons boerseuns destyds met die boor van boorgate waar basiskampe opgerig is!
GAWIE RICHTER
Bosveldsig, Modimolle